Die ou het net buite Keetmanshoop op die Aroab-afdraai gestaan en duimgooi toe Alec se pa met die groen Landrover oppad was plaastoe. Lang jas aangehad, klein koffertjie in die hand en deumekaar hare. Toe Alec se pa stilhou, blyk die duimryer ‘n Hollandse argeoloog te wees - op soek na dinosaurusspore of -reste in die plat suide van Namibië.
Hollands en Afrikaans is mos familie en sonder enige verstaanprobleme, hoor Oom Hennie dié man soek ‘n geleentheid ooswaarts. Hulle kom ooreen dat die ryloper – om sy deel vir die rit by te dra - die hekke oppad huistoe vir Oom Hennie sal oopmaak. Probleem was net, Oom Hennie het ‘n nuwe Vrystaatse (Australiese) skaaphond wat voorin tussen hom en die breekbare kruideniersgoedjies ry en wat sal afspring as hy agterop gelaai moes word. Hollander klim toe maar agterop die Landrover en maak homself gemaklik tussen die sakke mielies en sout en die drom diesel.
Die sonnetjie het begin wegraak en Oom Hennie roer die ou Landrover so teen 40, 50 myl per uur op die stowwerige grondpad. Sterk donker kry hulle die vloere op die buurplaas en ook die eerste van ‘n paar hekke. Die vloere is droë, gelyk panne met min of geen plantegroei nie en die Landrover hardloop lekker stil omdat die spore nie juis sinkplaat is, wat die ou kar kan laat ratel nie. Oudergewoonte haal Oom Hennie die Landrover uit rat so ‘n ent van die hek af en laat rol die ou swaar kar vry tot naby die hek, waar hy dan die briek ‘n paar keer pomp en dan stilhou.
Hollander misgis hom toe met ‘n paar dinge: Een, die spoed en twee, die stilhou of nie stilhou nie, van die Landrover. Dis donker en toe Oom Hennie die koppelaar intrap, besluit Hollander dit is tyd vir afklim en hek oopmaak. Hy trap op die ronde pyp wat kenmerkend is van die Landrover se agterbuffer en sit sy regtervoet op die grond. Toe kom hy (te laat) agter die kar loop nog met ‘n stink spoed. En hy begin val in paaiemente. Eers sleep sy voete toe die hardloop opraak, toe sleep sy knieë, sy bobene en toe los sy hande die bak se rand en hy begin rol agter die Landrover aan.
En Hollander rol. En hy rol. Nes hy dink dit is nou klaar, kom sy bene nog ‘n keer by sy kop verby – dit wil net nie ophou nie. Oom Hennie trap die briek die laaste keer by die hek en die kar kom tot stilstand. Hy wag vir Hollander om die hek te kom oopmaak, maar al wat in die flou ligte verskyn, is die fyn stof van die vloere wat kom verbysweef. Oom Hennie klim naderhand uit en loer agterop die bak – geen teken van die Hollander nie. Toe roep hy. Met die derde roepslag, hoor hy ‘n antwoord uit die donker en hier skuifel Hollander, asvaal van die stof, die ligkring binne.
Op Oom Hennie se vraag wat dan nou gebeur het, antwoord Hollander met tipiese oorsese verontwaardiging:
“Kunnen uw tocht niet deze fôkkon Landroover zijn brieke laten versienen ???!!!”