Die Jagluiperd Bewarings Stigting het ons genooi om na hulle bedrywighede te kom luister. Caltex het dit goed gedink om – addisioneel tot hulle normale borgskap vir hierdie bewaringsbeweging – ‘n tafel te koop en ons is opsluit saam om solidariteit met hierdie grootse poging te toon. Ons sit heel aand en luister hoedat daar moeite gedoen word om te keer dat hierdie mooi katte uitsterf. Ons hoor van mense wat geweldig toegewyd is en dit hulle lewenstaak maak, om bewaringsprogramme te reël en wetenskaplike data te versamel wat gebruik kan word in die bestuur van hierdie programme.
En hier sit ons en luister na mense wat met ‘n passie praat oor die red van ‘n spesie wat aan die uitsterf is. Daar is boeiende verhale van persoonlike toewyding en opoffering en smart en daar is kleurskyfies oor jagluiperds en buffels in die vrye natuur. In byna elke skyfie, is daar op die agtergrond of iewers ’n ou Landrover wat as vervoermiddel in hierdie epiese stryd om diereredding diens gedoen het.
Daar is glo net 15 000 jagluiperds in die wêreld oor, waarvan 2 500 in Namibië voorkom. Ek wonder wie het hulle almal so akkuraat getel. Ek wonder wie het die onbegaanbaarheid van die Khomas Hochland en ander onherbergsame gedeeltes van ons land getrotseer om elke jagluiperd te tel. Ek wonder wie van hierdie slim mense weet presies hoeveel mense daar tot onlangs toe in die burgeroorloë in Afrika (onnodiglik) gesterf het. Ek wonder hoeveel “fund raising dinners” daar vir die weeskinders uit Rwanda en Burundi gehou word. Hoeveel kos drie miljoen mense se lewens?
Terwyl ons so sit en luister en kyk na die kleurskyfies van hierdie kundiges uit die vreemde, ( die VSA en Europa) wat met gesag en vanuit ‘n eienaarskapsperspektief oor Afrika praat, vat my gedagtes die ver paaie. Ek sien ‘n vaalgrys, stowwerige Landrover wat skommel oor wye grasvlaktes op ‘n tweespoorpaadjie, met ‘n seningrige man in ‘n dowwe blou oorpak agter die stuur. Ek sien die bruin hoedjie - laag oor die oë getrek teen die skerp middagson, vuilgevat voorlangs en met baie dae se salpeter om die rand verder agtertoe. Ek sien die jare se spore om die man se mond en hoe die lewenslesse wat hy langs die pad geleer het, wit uitslaan in sy korrelrige baardjie.
Ek onthou vir Oompie Andries Windstaan. Ek onthou hierdie man wat my geleer het hoe die meerkatte ‘n slang baasraak. Ek sien die behendigheid waarmee hy die Landrover met sy uitgeslytte stuur in die tweespoorpaadjie hou. Ek ruik weer die Springboktwak wat hy in sy verslete kromsteelpyp rook en ek sien hoe Oompie Andries die orige kooltjies met sy skurwe duim terugdruk in die pyp se kop in.
Ek ruik weer die stof, die olie wat iewers onder die Landrover se enjinkap op ‘n warm plek beland, ek ruik die petroldampe wat van agter af terugwalm en aan die binnekant van die voorruit ‘n draai kom gooi voor dit ons neuse tref en ek hoor weer die geknars van die groot Kalahari Dunlops oor die kalkklippe. Ek proe weer die louwarm water uit die Thybenzol kannetjie met die sak om, ek kyk weer na die skaaphond skuins agter my met sy bek groot oop teen die wind. Ek sien weer die lugspieëling wat damme water ver vorentoe op die kim teken - waarby ons nooit uitkom nie.
En ek verlang. Ek verlang na die ver tye – baie verder terug nog, as waar ons kinders was. Toe jagluiperd en leeu en tier en hulle almal, nog volop was. Toe die mense gedwing was om in harmonie met die natuur te lewe - met behulp van karige middele soos ‘n donkiekar, ‘n perd, ‘n .303 en meel en suiker. Ek dink aan die tye toe die diere nog die botoon gevoer het in die veld en toe daar nog genoeg ruimte was vir almal. Niemand was bekommerd dat ‘n spesie sou uitsterf nie, omdat die mens destyds self gewikkel was in ‘n stryd om oorlewing.
Skaap en beeste is opgepas en kraal toe gebring saans. Hoenders en ander geveerde werfdiere het deurgeloop onder muskeljaatkat, groukat, muishond en selfs rooikat. Jag was nie vir kommersiële doeleindes nie, maar bloot ‘n noodsaaklike oefening om te sorg vir kos op die tafel. Jagluiperd is nie gehinder nie, solank hy net nie begin vang het onder die lammers of selfs beeskalwers nie.
Ek weet dat ek deel is van hierdie verlede. Ek is ‘n resultaat daarvan. Al het ek nie alles self beleef nie, is dit waar my wortels lê.
Ek besef meteens dat ek iets het wat niemand kan hê wat nie in Afrika gebore is nie. Ek besef dat ons as Arika-geborenes ‘n ontsaglike skat deel, wat nie met ‘n duisend potte lensiesop gekoop kan word nie, want dit het nie ‘n prys nie.
Ek raak kwaad omdat ons onsself so swak bemark in die wye wêreld daarbuite. Daar waar niemand werklik ons oorsprong, ons waardes, of ons passie vir ons eie, ken nie….moontlik omdat ons dit self nie ken nie?
awesome